Irene Fischer

Die Ongeluk

English Version

Ek verdeel my lewe in twee. Voor en na.

Voor die ongeluk beskou ek my lewe as ‘n reeks opvoedkundige jare gevul met fantastiese, opbouende ervarings sowel as hartseer, teleurstellende oomblikke.

Deurlopend was daar egter een goue draad: die hunkering om iets waardevol te doen met my lewe.

irene-margarine-fischer
Ek voor die ongeluk

Teen die tyd dat ek 24 was, het ek reeds ‘n Diploma in Televisie en Rolprent Vervaardiging voltooi, ‘n BA graad in Journalistiek aan die universiteit van Pretoria (Tukkies) behaal, en daarna ‘n Nagraadse Sertifikaat in Onderwys (NGSO) voltooi (ook aan Tukkies).

Ek het volleerd en slim gevoel. Onaantasbaar.

So toe ek 26 jaar oud was, het dit gelyk of ek uiteindelik rigting kry toe ek begin werk het as ‘n radio omroeper  by OFM, die grootste radiostasie in Sentraal Suid Afrika, in Bloemfontein.

‘n Loopbaan het skielik gewink met vrugbare potentiaal in die vermaaklikheidswêreld.

In die ateljee by OFM

Toe breek die oggend van 22 Oktober 2009 aan. ‘n Donderdag. 05:40.

Ek was op pad werk toe. ‘n Trok met 25 ton meel op, het oor ‘n rooi verkeerslig gejaag en in die bestuurderskant van my motor vasgejaag.

Om jou perspektief te gee oor die impak van die botsing: Die gemiddelde olifant weeg 6 ton (6000 kilogram), so agterop die vragmotor was daar basies vier olifante. 24 000 kg. Maar ek het dié figuurlike stampede oorleef. My kar was egter nie so lucky nie.

irene fischer ongeluk
Die wrak van my kar

Ek het uiteraard ‘n string aaklige beserings opgedoen. My lewer en milt het geskeur. Een van my ribbebene het deur my regterlong gesteek. My regterskouer en sleutelbeen het gebreek. My pelvis het gekraak en so ook my skedel. Ek is opgeneem in Medi-Kliniek in Bloemfontein met kritieke brein- en bors beserings.

Daar het my hart twee keer gaan staan.

My lewe het nie voor my oë verby geflits nie. Ek het nie ‘n verblindende wit lig gesien nie. Ek was nie skielik gevul met hierdie oorweldige en kalmerende gevoel van “knowingness” nie. My lewe is mos nie ‘n Hollywood rolprent nie.

irene fischer ongeluk
In die hospitaal

Ek is gediagnoseer met ‘n traumatiese breinbesering (TBI) en daar is vir my ouers gesê dat ek moontlik net 72 ure gaan lewe… maar hier is ek, meer as ‘n dekade later, besig om met jou te gesels.

Nobody puts baby in a corner.

Ek moes weer leer eet en praat tydens die drie maande wat ek in die hospitaal was.

Toe ek medies buite gevaar was, is ek oorgeplaas na Pasteur Rehabilitasie Sentrum, omdat ek ook weer moes leer loop (lees meer daaroor hier.)

Ek was vir byna vier jaar van ‘n rolstoel afhanklik en eers toe het ek bewus geword van die grootskaalse onkunde en inconsideration wat daar heers teenoor persone wat ‘n breinbesering opgedoen het (en ook gestremdhede as ‘n geheel).

So was ek soms aan die ontvangkant van bitsige uitlatings en ondeurdagsame en gedrag wat my menswees afgetakel het.

“Ek was verstom hieroor. Ek was dan nie minder van ‘n life force bloot omdat ek anders loop en praat as die deursnit mens nie, so hoekom het sommige mense my dan so onbedagsaam behandel?”

Ek het besluit om iets daaraan te doen en ek het ‘n opvoedkundige memoir geskryf om lig te werp op die verskeie verwronge, vooropgestelde idees wat daar oor breinbeseerdes bestaan.

Ek is nog hier” (ook beskikbaar in Engels as “I am still here”) is subjektief van aard want dit handel oor my journey om my nuwe normaal te vind na die ongeluk wat my lewe handomkeer verander het. Maar dit is ook vol eenvoudige, hulpvaardige verduidelikings van mediese terme en prosedures oor breinbesering oor die algemeen.

irene-fischer-inspirational-speaker
Tydens ‘n informele ‘n praatjie

Ek gee gereeld motiveringspraatjies om beter bewustheid oor breinbeserings te skep. (As jy my wil bespreek vir ‘n praatjie klik hier.)

Tans is ek ook ‘n junior lektriese by die Universiteit van die Witswatersrand (WITS) in Johannesburg en skryf in my vrye tyd.