Irene Fischer

Ohana

English Version

In 2002 was daar ‘n animasie rolprent met die naam “Lilo&Stitch” en een van die mooiste woorde daarin is in Hawaiian. Ohana. Wel, dis meer die betekenis daarvan wat in my hart resoneer. Die karakter Lilo verduidelik:

“Ohana” means “family”. “Family” means “no one gets left behind or forgotten.

Die oggend van die ongeluk het my ouers onmiddellik vanaf Rustenburg na Bloemfontein gery (‘n 5 ure rit). My sussie het dadelik vanaf Sekunda na Bloem gery, (ook ‘n 5 ure rit).

My ma, Julie sou tydelik, vir ses maande, Bloemfontein toe trek. Sy sou langs my bed waak – eers vir drie maande in die hospitaal en daarna vir drie maande in die rehabilitasie sentrum – om haar oor my te ontferm en my te help versorg. Elke liewe dag was sy langs my bed vir ten minste 12 ure. Ses maande is ongeveer 180 dae. Dit is 2160 ure. Duidelik het ek haar murg in my pype as dit kom by uithouvermoë en determinasie.

Sy is onbaatsugtige liefde personified met ‘n ruggraat van stainless steel.

irene fischer accident
Ek en my ma, Julie in ‘n ligte luim in die rehab

My pa, Naas, moes weekliks verantwoordelikhede by sy werk nakom in Rustenburg, maar elke naweek het hy die 5 ure Bloem toe aangepak. Elke liewe naweek. Daarheen en terug. Daarheen en terug. Vir ses maande. Ongeveer 24 naweke. 240 ure op die pad. Tog was hy altyd vrolik en liefdevol al moes al die ryery uitmergelend gewees het. Dit was hoeka hy wat die goue woorde in my brein laat ontkiem het:

Attitude determines attitude.

irene fischer ongeluk
Ek en my pa, my eerste dag in Pasteur rehab (Januarie 2010)

My sussie, Julette het elke Vrydag na werk OR Tambo toe gery en vandaar na die lughawe in Bloem gevlieg.
Haar vliegtuigkaartjies alleen, tydens die ses maande, was iets soos R35 200, maar liefde en omgee kan nie in rande en sente gemeet word nie.

Tyd, aandag, goeie dialoog, drukkies, soene, dit vorm deel van die ware maatstaf.

irene fischer ofm ongeluk
Ek en Julette in Pateur (April 2010)

My gesin se liefdevolle onderskraging het my gedra toe my bene nie kon loop nie. Liefde is broodnodig om asem te kan haal en hulle s’n het in oorvloed oor my troebel longe gestreel.

Te dankie aan dié drie bedagsame,geduldige real-life heroes se raad en motivering (en ook talle ander besorgde geliefdes se bystand), het ek daagliks redes gekry om te bly glo in myself. Om nooit om op te hou probeer om hulle trots te maak nie.

Om weer te kan loop sou my manier wees om hulle terug te betaal vir al hulle eindelose geduld en positiwiteit, want blote geskenke, geld of sjokolades sou beslis nie deug nie.

john f kennedy quote